Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net om God se verborge raad gelowig te aanvaar is reeds suiwer genade; te midde van vrysinnige teoloë, moderne ketters, en hedendaagse sogenaamde nuwe hervormers.
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (5)
“Daar is so baie van hulle. Hoe kan ons ooit hierdie stryd wen? Ek kan nie eens dink hoeveel kere ons in ‘n geveg was nie; hoeveel dooies en gewondes, hoeveel bloed…wanneer gaan dit ophou?”
“Tamar, daar is meer aan ‘n oorwinning as getalle. Hetsy die aantal van die vyand, of die dooies of gewondes. Daar is soveel aspekte en fasette daaraan, dat dit moeilik is om dit in een gesprek te noem.”
“So, jy wil nie daaroor praat nie, want ons staan nie ‘n kans nie?”
“Dis glad nie wat ek gesê of bedoel het nie. Inteendeel. Mense staar hulle bloot in getalle vas en neem nie die ander aspekte in ag nie. Soos die gehalte van die soldate, die dissipline, innovering, beweeglikheid, ervaring, op die voete dink, ‘n nuwe plan maak as die oue nie werk nie, toerusting, uitrusting, wapentuig, ensovoorts.”
“Nou vertel my, asseblief. Sê tog net iets bemoedigend. Ek is al so moeg vir hierdie ding. Ek wil nie meer veg nie. Ek wil net hê dit moet ophou.”
“Nee, dis juis waar die kruks van die saak lê. Kom ek verduidelik dit vir jou so: voordat die Anglo-Boereoorlog begin het, het Boere-generaals soos Koos de la Rey, Christiaan de Wet en selfs Smuts gesê dat President Paul Kruger mooi moet dink voordat hy oorlog verklaar. Hulle het gesê daar is ander opsies. Hulle het ook vir hom gesê hy wat Kruger is, sal lankal oorsee sit, dan is hulle nog op die slagveld. Want sien, die Boere is in wese vredeliewende mense. Natuurlik het hy nie geluister nie en natuurlik was hulle reg. Maar De Wet en De la Rey was bittereinders, wat geweet het wat jy begin, moet jy klaarmaak.
“En natuurlik was die verraaiers daar, manne wat nie met hart en siel geglo het in dit wat hulle doen nie, en natuurlik diegene wat bloot agter geld aan gehardloop het. Niemand weet byvoorbeeld waarom het Generaal Piet Cronjé by Paardeberg met vier duisend vyf honderd man oorgegee, nadat Danie Theron drie of vier keer deur die vyandelike linies gesluip het en vir hom vertel het hoe De Wet hom kan help om met sy manne te ontsnap nie.
“Dis waarom soveel jare verbygegaan het, en die Afrikaner het net al meer en meer agteroor gebuig, hier toegegee, daar mooigepraat en aangegaan met werk, beplan, nuwe dinge te skep. Dit was ‘n kombinasie van vredeliewendheid, geloof in jou medemens en die rugstekery van die verraaiers. Waar mense hulle werk as gevolg van transformasie of BEE of later BBB-EE verloor het, het hulle hul entrepeneurskap laat seëvier. Maar hoe meer hulle toegegee het, het die druk vanuit die ANC, EFF, BLF en ander linkse groepe eksponensieel groter geword. Moorde het meer dikwels op mekaar gevolg, met aanrandings, dreigemente, stakings en brande. Want dit gaan uiteindelik nie oor besitreg nie, maar die blanke was ‘n spieël waarin die anderskleurige homself gesien het en nie kon aanvaar nie.”
“Jy bedoel dit seker nie.”
“Ek doen. Ek bedoel dit vir seker. Daarom is witmensgoed, soos styl hare, ligte velle, grimering, duur Duitse motors, huise met Europese argitektuur, noem maar op, aangekoop so ver hulle kon, maar dit het nie hulle wese, kultuur of menswees verander nie. Môre staan hy op en hy is steeds nie blank nie en daarom haat hy almal van Europese afkoms. Die enigste manier om nie jouself te sien in vergelyking met wat jy graag wil wees nie, is om die norm te verwoes. Breek die spieël. Daarom was hierdie stryd onafwendbaar.”
“Kon ons nie meer gedoen het om dit te keer nie?”
“Tamar, wat? Die land was tegnies bankrot. Aan die begin van 2019 was twee en vyftig persent van jongmense tussen vyftien en vier en twintig werkloos. En dis net dié van hulle wat werk gesoek het. Indien dié wat bloot nie eens gepla was daaroor nie, in berekening gebring word, sou dit baie meer gewees het. Die skoolstelsel het met ‘n dertig persent slaagsyfer ‘n matrieksertifikaat in baie gevalle waardeloos gelaat. As jy ses na tien miljoen jongmense vat, hulle opsweep, soos wat Malema en kie gedoen het, hoe keer jy die golf as hy eers in beweging kom?”
“En wie gaan as oorwinnaars uittree?”
“Een van die Amerikaanse generaals het ‘n waar ding gesê: ‘He who believes the hardest, the longest, will eventually win’.”
“En hoekom is dit ons?”
“Want ons het nie ‘n keuse nie.”
*
In die lang, verre verlede was die SALM ‘n toonbeeld van paraatheid, goed-opgeleide vlieëniers, kajuit- en grondpersoneel. In die jaar 2000 is duisende Suid-Afrikaanse en Mosambiekse burgers uit die vloedwaters gered deur die heldedade van hierdie loodse en hulle personeel. Nou, twintig jaar later, is die Lugmag skoongemaak van alles wat kan vlieg en van diegene wat dit gevlieg het. Die paar helikopters wat nog lugwaardig is, staan sonder brandstof of vlieëniers, of albei.
Diegene wat op die dakke van hulle wonings, in bome of op enige hoë plek skuiling kon vind, is aan hulle eie lot oorgelaat. Baie duisende mense verdrink in die vloede wat die orkaan Greg saambring. Spruite verander oornag in riviere en riviere in siedende watermassas. Enige laagliggende gebied word oorstroom. Miljoene mense word misplaas en daar is nie ‘n volledige rekord om die getal te bepaal nie.
*
Die Man het die donker wolke van veraf sien aankom en geweet hy moet skuiling soek. Teen laatmiddag is die oostelike horison verlig met die een na die ander weerlig-blits en die donderweer rommel al nader. Hy ken nie die omgewing nie, en weet nie waar om te gaan soek vir droë skuiling nie en daarom loop hy al met die kranse net onder die kruin van die middelste reeks van die Berg.
Joe het verbygedraf en mik tussen die bosse deur na die kant van die krans. Dan tref die wind hulle. Eers ‘n effense sweempie in die drukkende hitte wat voor die orkaan uitloop. Die wind was veronderstel om minder te word, en grootliks te gaan lê, so diep die binneland in, maar nie in hierdie geval nie.
Die Man het so iets nog nooit ervaar nie. Hulle sal dringend skuilplek moet kry. Wat eers lyk na ‘n smal skeur, word al donkerder en die Man sien dat aan die bokant, nie meer as vier meter bo die grond nie, het ‘n wildevy omgeval en lê met sy dik stam die skeur toe. Dit veroorsaak ‘n tydelike, maar diensbare skuiling, wat relatief droog behoort te bly in die komende reën, waarvan hy oortuig is dit is in aantog.
Die donderweer kom vinnig nader en hy en Joe mik vir die plek. Die wind is nou verskriklik; dit huil en fluit, bome verloor eers die mees brose takke en dan groteres, wat deur die lug trek. Hier en daar is ‘n amper onhoorbare kreun soos bome ontwortel. Stukke boom word dodelike missiele wat voor die wind uitvlieg.
Hulle twee is al amper binne bereik van die skeur, maar moet oor ‘n lang, ongelyke klipplaat loop om daar te kom. Dis heeltemal ontbloot van enige wering teen die wind en die Man, alhoewel sterk en skraal, vang ‘n vlaag wind van agter en hy gly oor die nou-gladde klippe en verloor sy balans.
Joe, wat uiteraard baie ligter is, word deur dieselfde wind opgeraap asof hy niks weeg nie, en waai rollend by die Man verby. Hy gryp na hom en kry ‘n agtervoet in die hande. Joe wil hom eers vererg en na hom byt, maar dan besef hy dis nie die Man se bedoeling om hom seer te maak nie.
Die Man besef hy kan nie in hierdie wind staan nie, en kruip hande-viervoet na die grot toe. Sy hoed waai van sy kop af en hang net aan die riem agter op sy kop. Snerpende stukkies rots en stof, takkies en blare, wat deur die geweldige winde opgeraap is, maak fyn stekies in sy gesig. Sy oë traan, maar hy kan nie laat gaan en sy gesig afvee nie.
Die reën deurdrenk sy klere tot op die vel, amper asof hy in ‘n rivier sou val. Dit huil en fluit om sy ore. Vir ‘n oomblik gaan lê hy plat op die rotse, met Joe nou binne die kring van sy arms voor hom. Joe bewe en kerm saggies van angs, maar spartel nie om vry te breek nie.
Vir ‘n oomblik is daar ’n huiwering in die stormwind en hy gebruik dit om gebukkend te hardloop, met Joe se nekvelle in sy regterhand. Die volgende moment is die groot massa wolke weer oor hulle. Die wind is so erg dat hy bang is dit trek die boom bokant hulle uit die skeur. Daar is genoeg yster in die klippe rondom die grot dat die weerlig lyk asof dit oor die rotse hardloop. Die lawaai is geweldig. Daar is ‘n reuk van swael in die lug. En dan kom die reën weer.
Die man sou nie kon weet dat hulle maar die stertkant van die orkaan beleef nie en dat die ergste winde alreeds lankal uitgewoed is. Hy het nog nooit so baie reën beleef nie. Dit kom nie skuins af soos ‘n donderstorm geneig is om te doen nie, maar feitlik regaf, vertikaal met die grond. Net so skielik is hulle binne die grot.
Langs die bek van die grot stroom die water in strome en golwe soos die wind dit voortdryf. Deur die jare het blare en takke in die grot geval en hy maak so gou as moontlik daarvan vuur, in ‘n oop sirkel wat hy skoonvryf. Hy is nie bang dat dit gesien sal word nie, want niemand in sy volle verstand sal dit in hierdie storm buite waag nie.
Dit het intussen donker geword en die vlamme verlig die binnekant van die skuiling. Hy trek al sy klere uit, laat dit oor klippe lê om droog te word en hy sit nakend oorkant Joe by die vuur. Joe skud homself soos wat enige deurdrenkte pels-draende dier sou doen en die water spat in vlae om hom.
“Joe, ek hoop nie iemand sien ons nou nie. Dit sal sekerlik ons brandmerk as die mees skaamtelose wesens ooit.”
Joe kyk hom aan asof hy simpel is en begin sy voete en bene drooglek.
Die wind maal en draai, huil soos verlore geeste, soek plek om in te kom. Soms waai die wind diep die grot binne en vonke uit die vuur draaikolk na boontoe. Agter, teen die “V” van die skeur, diep in die binnekant, het die Man sy seil oopgegooi en onder sy kombers ingekruip. Die wande van die grot reflekteer die hitte na binnekant toe en daarvoor is hy dankbaar, want die temperatuur het van digby veertig grade af gedaal na net bokant tien.
Joe het gisteraand vir die eerste keer ‘n stukkie biltong as aandete aanvaar, maar hy is duidelik nie heeltemal daarmee geneë nie. Hy hou van sy vleis vars en bloederig. Hy het sy neus vir die beskuit bloot opgetrek en laat val. Die Man het die sand afgevee en self geëet. Net voor dagbreek het ‘n Mosambiekse spoegkobra die grot binnegeseil, seker ook om die water te ontsnap. Joe het hom agter die kop gegryp, rondgeskud en die karkas grootliks opgevreet.
“Mag ek tog nooit sò honger word nie,” dink die Man.
Die wind en reën hou vir nege dae aan. Gefrustreerd sal die Man vir ure so na as moontlik aan die bek van die grot staan en bloot buitekant toe kyk – verstom oor die mag van die natuur en die kragte daarin.
Iewers daar buite is sy kinders.