Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Beleef jy baie fisiese pyn, teleurstellings, of verlies in jou gemoed? Onthou wat God vir jou sê: "Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig..." Jeremia 1:5
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (7)
George het vir Tros Truter oorgenooi om saam met die gesin aandete te nuttig. Sherry en die kinders is onrustig en wil net klaarkry sodat hulle kamer toe kan gaan, weg van George af, en natuurlik vanaand ook met ‘n toe deur tussen hulle en Tros. Hy het ‘n spesiale maaltyd voorgeskryf, wat Sherry moes voorberei. Dit bestaan uit gekookte groenmielies, rys, biefstuk en spinasie. Nadat sy haar kos so vinnig moontlik afgesluk het, verskoon Sherry hulleself, maar George wil niks daarvan weet nie. Hy kyk die kinders so kwaai aan, dat die kleintjie begin huil.
“Sherry, kry jou kinders onder beheer!”
Die oudste kindjie kyk af na haar kos. Daar is trane in haar oë, maar sy huil nie hardop nie. Haar armpies hang langs haar sye en af en toe kyk sy op na George. Daar is walging en veragting in haar klein ogies.
“Kom nou my meisies, eet julle kos.”
“Ek is nie honger nie! Los my uit!”
George en Tros smul aan die kos, en neem hulle tyd daarmee. Na die lang, uitgerekte ete laat George die kinders toe om kamer toe te gaan, maar Sherry moet by hom en Tros gaan sit in die voorhuis. Na ‘n driekwart-uur huil die kinders so baie, dat George haar ook uiteindelik maar toelaat om kamer toe te gaan. Hy skink vir hom en Tros ‘n volgende sopie in. Natuurlik van die goedkoper whiskey en nie van sy pa se Johnnie Walker nie.
“Ek sien jy loer vir my meisie, Tros?”
“Askies, George man. Maar sy is regtig baie mooi.”
George lag. Hy weet dat sy nie regtig so mooi is nie, maar dat sy ‘n manier het om mans spesiaal te laat voel.
“Dis okay, man. Ek weet hoe jy voel. En ek dink sy hou van jou ook. Moet net nie te veel gedagtes kry nie, onthou sy is my stukkie.”
Hy laat ‘n paar minute verbygaan. Hy kan sien Tros voel effens ongemaklik, maar laat hom vir eers begaan. Dan breek hy die stilte.
“Dis net… ek voel partymaal asof sy na iemand ander begin soek. Jy weet wat ek bedoel?”
Sonder om vir ‘n antwoord te wag, gaan hy aan.
“Sy is miskien meer as wat ek kan hanteer?”
Hy maak asof hy afkyk, tel sy drankie van die koffietafel af op, maar oor die glas se rand kyk hy na Tros se uitdrukking. Dis presies waarvoor hy gewag het.
*
“Dominee, iets vreemds gaan in die berg aan.”
“Hoe bedoel jy, Ben?”
“Dis asof die berg leeg geraak het. Waar ons patrollies voorheen so af en toe op vyandelike magte afgekom het, is daar nou niks, behalwe ‘n paar Venda’s wat blykbaar in vrede wil lewe. Maar ook hulle sê hulle sien niemand nie en het selfs weer begin om klein lappies mielies aan te plant; iets wat hulle nou vir lank nie gedoen het nie, want dit lok net die rebelle.”
“Wat kan dit wees? Hulle was mos nog nooit so bang vir ons klompie nie?”
“Die een ou Venda wat ek mee gepraat het, praat van die ‘spook van die berg’. Hy sê daar is mos die legende van die ou toordokter Thate wat van gestalte of vorm kon verander, soos hy wou. Partykeer was hy ‘n mens, ander kere ‘n wit krokodil en nog ander kere ‘n wit leeu. Vreemd, hy was ‘n swart mens, wat in ‘n wit leeu of krokodil verander het. Hy sê dit het eers daar naby die Tahte-Vondo dam en die heilige woud gebeur, maar al meer mense het hom nou gesien. Ander vreemde ding; hy verander in ‘n rooikat en nie ‘n leeu nie. En… Tahte is nou ‘n witman en nie swart nie.”
“Vreemd. Weet jy, Ben, daar is net een man waarvan ek weet wat nou in die berg rondloop.”
“Ek weet van wie jy praat en ek het mos self nou hierdie gedagte.”
*
Die Man het ‘n halfuur na dagbreek die gesinnetjie verlaat. Hy het vir die eerste keer in weke nie op die grond geslaap nie, maar op die sagte leerkussings van die bank. Hy voel effens onrustig oor Joe, maar weet tog die dier het hom nie nodig nie.
Esther het hom douvoordag kom wakker maak met ‘n koppie egte filterkoffie. Dis vreemd, maar hierdie laaste uur en ‘n half van die nag het hy diep en droomloos geslaap. Nadat hy die koffie gedrink het, het Esther hom die badkamer aangebied.
“Ek het die gennie aangesit en daar is vars water uit die boorgat. Dis ongelukkig nie warm nie, maar jy kan stort of bad as jy wil. Dis nou as jy kans sien vir die koue water.”
Die drie kinders het hom grootoog aangekyk toe hy gang af loop. Tipies klein dogtertjie het die twee meisietjies vir hom ogies gemaak en gegiggel toe hy terug knipoog. Die stort was inderdaad koud, maar hy geniet die skoonwees. Daar is selfs ‘n groot bottel sjampoe wat sy duidelik vir hom neergesit het, en hy vat ‘n bietjie om sy hare te was. Geskok kyk hy na die bruinerige water wat langs sy lyf van sy kop afloop. Nadat hy gestort het, kyk hy in die spieël en hy sien ‘n man van ‘n bietjie meer as medium-lengte, met donkerbruin hare en baard. In die badkamerkassie is ‘n skêr en hy sny die baard in ‘n min-of-meer vorm met minder klosse. Hy voel amper weer soos ‘n mens.
“As jy nog ‘n dag hier bly, sal ek jou klere vir jou was?”
“Ek kan nie. Ek moet by my kinders kom. Soos dit is, het ek baie tyd verloor. Ek het malaria gehad en hierdie verbrande orkaan het nog tien dae gesteel. Maar dankie in elk geval. Miskien eendag?”
Vir ontbyt is daar ‘n groot bord mieliepap, met suiker en melk – iets wat hy baie lanklaas genuttig het – drie eiers en ‘n groot biefstuk.
“Julle moenie julle kos vir my gee nie!”
“Lyk ons vir jou uitgeteer? Onthou, hierdie is ‘n plaas. Hier is baie mieliemeel en mielies, hoenders, as jy opgelet het en daar is twee melkkoeie wat nie wild rondloop nie. En ja, daardie vleis – die beeste is nie so wild dat ek hulle nie kan kry as ek wil nie.”
“Jy het my belowe jy sal my vertel hoe jy hulle in die hande kry”.
“Ek het gesê; ‘eendag’, onthou jy? Nou ja, miskien, as ons mekaar weer sien, sal ek jou vertel. Eendag.”
Sy kyk af en daar is ‘n onpeilbare stilte.
Esther het al, voordat hy sy koffie gekry het, ook gebad, hare gewas en skoon aangetrek. Sy het ‘n nuwerige denim langbroek en ‘n perske-kleur bloes aan. Hy sien dat sy nie baie korter as hy is nie, met ‘n skraal lyfie en ‘n lang nek. Haar hare is nie, soos hy aanvanklik gedink het blond nie, maar is heuningbruin met ‘n effense skynsel rooi in. Haar lippe is vol en rooi en haar oë groot en donkerblou. ‘n Diep, blou soos wat hy nog nooit aan ‘n mens gesien het nie.
Na ontbyt is die son net mooi op en die oggend is na die reën, vars en koel. Hy staan vir ‘n minuut langs haar net buite die deur. Hulle praat nie. Dan sit hy sy hoed op sy kop en draai na haar toe. Onwillekeurig lig sy haar gesig na hom toe. Hy soen haar saggies en vinnig. Hy kry baie skaam.
Van binne die kombuis is daar ‘n gegiggel.
“Kom hierlangs as jy eendag kan.”
“Ek sal, Esther.”
*
Kilometers na die Weste toe kom George uit ‘n dronkmanslaap. Sy kop is seer en sy mond droog. Die babelas word elke dag erger, en elke dag moet hy meer drink om dieselfde effek te kry. Maar, ten spyte van sy fisiese probleme, voel hy goed. Hy voel so goed dat hy - nadat hy die ergste hoofpyn onder ‘n proppie drank gebêre het – selfs lus voel vir ontbyt. Die aand se gekuier met Tros was vrugbaar en hy dink hy gaan hierdie probleem wen.
“Ou George is in die nag gebore, maar nie laasnag nie,” sê hy hardop.
“Het jy gepraat, George?”
“Ja, Sherry, maar nie met jou nie.”
En dan: “Wat is vir ontbyt?” vra hy ongeskik.
Sherry het vir die oomblik haar breekpunt bereik en bars in trane uit. Sy gryp die twee kleintjies, hardloop kamer toe en slaan die deur agter haar toe. George voel effens onrustig, asof hy weet dat hy te ver gegaan het. Maar dan skud hy sy kop, om die gedagte weg te kry. Sy moet nou maar eenmaal leer dat sy nie meer met alles kan wegkom nie. Hy is die baas. Hy is in beheer en as sy nog daaraan twyfel, moet sy maar net by die venster uitkyk en sien hoeveel manne daar is om sy bevele uit te voer.
Agter die agterdeur sit Mannetjies. Hy hoor die woordewisseling en Sherry se gehuil. Hy hoor die deur toeklap en dis asof hy self ‘n fisiese hou teen die kop kry. Hy begeer om haar vas te hou, haar te troos en te soen en… Hy begin ‘n diep en swaar woede vir die baas ervaar. Dit stoot soos ‘n vulkaan binne hom op, maar hy smoor dit na ‘n ruk. Dit lê diep in sy onderbewussyn, en hy onderdruk dit met die blote en totale begeerte na Sherry. ‘n Vulkaan egter, kan vir ‘n ruk lank sluimerend lê, maar kan ook ter enige tyd uitbars.
Tros het dit ook gehoor, maar sy reaksie is anders. Mannetjies is smoorverlief, maar Tros het nie daardie vermoë nie. Hy het gebroke grootgeword, by die Groen dam naby Pretoria-Wes. Daar het hy heen onstnap om die kloue van sy dronk pa en rondslaap-ma te ontduik. Daar het hy met ‘n ou Harrington&Richardson punt twee-twee leer skiet en sy horde boeties en sussies (by etlike pa’s) gevoed met bleshoender en tarentaalvleis, met die sporadiese wilde-eend, haas en selfs ‘n beskikbare jong skaap of twee deur die jare.
Hy het kleintyd geleer om homself te verdedig teen sy pa se woede en sy ma se alewige en ontydige minnaars. Geen terugkry-aksie was vir hom te erg of te agteraf nie. Vele kere het sy pa na ‘n dronk-bewusteloosheid wakker geword in die hospitaal met ‘n gebreekte kakebeen of arm, ‘n meswond aan die arm of ‘n gebreekte voet. En Tros het dan die mes en die bofbalkolf mooi weggebêre.
Etlike van sy ma se kêrels het kaal en met ‘n knop teen die kop sy bewussyn herwin op die sypaadjie of langs die kant van die straat. Eweneens is die kolf mooi weggesteek en Tros of sy boeties weet niks daarvan nie.
Tros was skraal, effens korter as sy skoolmaats, maar taai en seningrig soos ‘n stuk sebra-biltong. Die sielkundige letsels wat hy in sy opvoedingsjare opgedoen het, is dieper as wat sielkundige behandelings en terapiesessies kan verander. Daar is basies, behalwe oorlewingsdrang, net twee dinge wat vir Tros deur die lewe dryf: haat en seksuele drifte.
Die mens wat hy die meeste haat is die ou saam met wie hy dekades gelede skerpskuttersopleiding gedoen het, selfs meer as sy pa. Dis asof hy ‘n kompilasie is van al sy pa se mishandeling en woedebuie, sy ma se promiskuïteit en sy afsku vir haar minnaars. En die vreemdste van alles is dat die man die totale teenstelling is van hom, Tros, sy pa en ma en feitlik almal met wie hy grootgeword het.
Daarby het sy vermoë om ‘n vrou lief te hê in sy walging vir sy ma verdwyn, maar nie sy dierlike seksuele drifte nie. En op die oomblik is al sy drifte gefokus op Sherry. Hy wil haar nie liefhê nie. Hy kan nie. Maar hy sal haar gebruik as hy kan, en dan eenkant toe stoot. En vir nou is al sy haat gemik op George. Beide steek hy goed weg agter ‘n skurwe, maar hoë en irriterende laggie. Tros is allemansvriend, en ook niemand s’n nie. Hy is interessant, met ‘n magdom staaltjies, intelligent, maar uiters slu en gevaarlik.