Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer iemand sê hy het nie tyd gehad om iets vir jou te doen nie, is dit nie 'n stelling van 'n feit nie maar 'n verklaring van prioriteite.
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
George is gefrustreerd, verveeld en in ‘n algehele slegte bui. Sherry en die kinders bly in hulle kamer en vermy hom. Wat aanvanklik as vrede, rus en tevredenheid voorgekom het, is nou nie meer lekker nie. Die opstal was vir baie jare sy pa se huis en hy het dit bloot geërf nadat die ou toppie die emmer geskop het. Verveling en ledigheid is inderdaad die duiwel se oorkussing.
George gaan kyk of hy nie die drankkabinet se sleutel kry nie; die paar bottels wat hy saamgebring het is lankal leeg. Hy weet sy pa het duur whiskey en brandewyn versamel, en baie van die bottels is tien-duisende rand werd. Maar wat is geld nou as ‘n man dors is?
In sy soektog na die kabinet se sleutel – hy het darem nog nie so ver gekom as om die ding oop te breek nie – ontdek hy toe mos wel twee sleutels, hoog bokant een van die gordyn relings in ‘n uitgeholde, langwerpige opening. Die holte is bedek met ‘n fyn deksel, en dis bloot toevallig dat hy dit kry. Die een sleutel is inderdaad die drankkabinet s’n, en ‘n paar minute later sit hy, hoogs tevrede, met ‘n half-glas Johnnie Walker van amper ‘n halfeeu gelede. Dit smaak vir hom maar dieselfde as nuwes, maar die skop is daar en hy geniet die effense lomerigheid wat dit oor hom bring.
Die ander sleutel is lank en het ‘n plat agterkant. Die oopsluit-gedeelte is kort en stomperig en hy draai dit heen en weer. Wat sluit dit oop? Vir drie dae verwonder hy hom aan die geheim.
Uiteindelik val iets hom op: die spens is kleiner binnekant as wat dit veronderstel is om te wees. Hy pak al die bottels, blikkies, sakke rys en meel van die ver kant af en dan voel-voel hy oor die agterkant. Hy kan sien dat daar gapings van minder as twee millimeter aan drie kante van die muur is, en aan die regterkant is die gaping ‘n bietjie groter.
Hy spandeer ‘n driekwart-uur om die geheim van die muur te kry en gee dan op, maar sodra hy omdraai, sien hy dat een van die staal elmboë wat die middelste rak ophou, nie aan die plank vasgeskroef is nie. Hy bekyk dit ‘n minuut lank en dan druk hy die arm af, ondertoe.
Daar is ‘n hoorbare klikgeluid en dit lyk asof die gaping aan die regterkantste muur groter is. Hy leun met fors daarteen en hy verloor amper sy balans as die hele muur op ‘n sentrale swaaipunt draai. Verwonderd staar hy na die twee by twee meter kamer agter die versteekte muur. Die plafon en die mure is van gewapende beton gemaak en dis feitlik ondeurdringbaar.
In rye langs die kante en agter is seker vyftig gewere – jaggewere van groot en klein kalibers, drie R1’s, ‘n hele aantal AK 47’s van verskeie variante, R5’s, R4’s, drie M16’s. Hy ken die meeste van die wapens nie, maar herken die waarde daarvan dadelik. Agter en skuins van hom, teen die oopgeswaaide deur, is handwapens van .22’s tot ‘n groot, vlekvrye staal .460 Smith&Wesson rewolwer met ‘n tien duim loop. Bokant die wapens, aan alle kante, is daar pakke en pakke ammunisie en spaar magasyne. Hy fluit van verwondering.
“Die ou skelm bliksem!” dink hy. Hy het geweet sy pa het baie geld gehad en was maar in baie opsigte geheimsinnig, maar hierdie! Hy fluit weer. George haal een van die gewere uit sy rak en bekyk dit noukeurig. Dis ‘n Sauer 90 in .243 Winchester kaliber. Dis toegerus met ‘n Swarovski teleskoop – soos al die ander jagwapens en die een R1 met die dikker loop. Hy sit die geweer aan die skouer en kyk deur die teleskoop.
“Doesh!”, maak hy die geluid deur sy mond na.
Met die swaai van die loop klap hy per ongeluk ‘n paar pakkies ammunisie af en dit ruk hom uit sy verdwasing. Hy sit die rondtes terug, soek vir ‘n paar pakkies .243, haal twee van die handwapens af: ‘n .38 Special Taurus en ‘n Berretta model 92 9mmP. Sy oog val op ‘n sleutelgat in die vloer en hy haal die vreemde sleutel uit, druk dit in die gat en sluit die swaar deksel oop. Binnekant is ‘n paar honderd goue Krugerrande. Hy is ryk! Hy sluit die versinkte kluis weer en maak seker dis soos dit was.
Hy kry rondtes vir die wapens, sit dit buite die kamer op een van die kombuisrakke en dan druk hy die deur weer toe. Dit klik styf toe en hy pak die kos weer terug in hulle rakke.
Hy is skoon nugter na sy ontdekking.
*
Die Man ervaar algaande ‘n nuwe gewaarwording. Hy geniet dit om alleen te wees. Hy is nie eensaam nie, maar alleen. Daar is ‘n baie groot verskil. Saans, as die vuur dood is en die slaap nog nie kom nie, probeer hy hierdie wete ontleed. Miskien wil ‘n mens ander mense by jou hê sodat jy kan goed lyk in jou eie oë. Is dit nie die rede waarom mense skinder, mekaar afkraak en hulle besittings wil hê nie? Of ryk wees. ‘n Man kan mos net een bord kos op ‘n slag eet, een broek aantrek, een asemteug op ‘n slag vat. As jy meer geld verdien, of op ‘n manier invorder anders as wat jou deel is, is daar noodwendig iemand wat minder gaan hê. So, dit kom alles terug na eersug. En hy het nou niemand nodig om vir hom te sê of hy goed of sleg is nie; of hy minder of meerderwaardig is nie. Hy is wat hy is.
Hy besef dat hy tot baie meer in staat is as wat hy gedink het. Sy liggaam is fiks, gesond, taai en gespierd. Hy dink nugter en helder. Joe gee nie om of hy ryk of arm is nie. En tans is Joe al vriend wat hy het, of wil hê. In sy diepste wese het hy geen behoefte aan enige mens nie, behalwe vir sy kindertjies. Die gedagte aan hulle maak sò seer, dis asof hy dit fisies kan ervaar.
In die agtiende eeu het iemand van die “beskawing” vir een van die Amerikaanse pioniers gevra hoe oorleef hy die alleenheid en wreedheid van die “frontier”. Hy antwoord toe dat die natuur nie wreed is nie. Die natuur is net wat dit is. Mense is wreed. En op die vraag na die oorlewing in sy alleenheid? Hy sê hy sien heel jaar op na die tyd wat hy die natuur moet verlaat om die Rendesvous van die beskawing aan te durf as hy sy pelse kom verkoop en kruit en ander noodsaaklikhede moet aanskaf. Want dan besef hy hy is alleen tussen baie mense.
*
Alkohol en kruit meng nie. George gee nie om nie. Hy is koning van sy eie mishoop en niemand sal vir hom sê wat om te doen nie. Daarom is die skoot wat hy per ongeluk deur een van sy oorlede ma se koperpotte skiet, nie vir hom ‘n probleem nie. Omdat daar niemand is om hom aan te spreek of teë te gaan nie, trek hy nog twee af – hierdie keer skiet hy die pot mis – net om vir homself en ander te bewys hy kan.
Hy het met die Beretta gesit en speel en na alles in die voorkamer gesit en korrel. Na drie doppe het hy natuurlik vergeet dat hy die ding al gespan het. Die knalle van die skoot het sy ore toegeslaan en uit die spaarkamer hoor hy hoe die twee kinders van skrik angstig begin skreeu, maar hy gil net dat hulle moet stilbly.
Sherry pleit by hulle om te bedaar. Sy is nou bang vir George. Sy kom omtrent net uit die kamer om vir hom kos te maak en om te sien na die kinders. Wanneer hy nugter genoeg is, vat hy die geweer en loop ‘n draai op die plaas.
Dan vat sy die kinders buitekant toe om op die groot grasperk voor die huis te gaan speel, maar as hy terugkom, sluip hulle weer terug kamer toe. Wat aanvanklik ‘n paradys en ontvlugting vir haar en die kinders moes wees, het ‘n gevangenis geword. Sy maak planne.
Soos wat die mense om hom skrik vir hom vang, word George al meer nors en befoeterd – en dors. ‘n Dors wat drank nie heeltemal les nie. Dis vir hom ‘n vreemde ervaring dat mense vir hom bang is en nie agter sy rug met hom die spot dryf nie. Ja, hy weet dit.
Hy het nog altyd geweet dat hy die karikatuur van ‘n swakkeling in so baie mense se oë was. Daarom het hy hulle probeer terugkry deur homself deur middel van sy loopbaan te bevorder. En as prokureur, wat deur harde werk en kruiperigheid stadig teen die loopbaanleer uitgeklim het, het hy in sy spore baie mense platgetrap gelos. Mense wat nie kon terugkom en vergeld nie. Daarvoor het hy ook gesorg.
Maar nou is hy in volle en totale beheer. Hy is die man! En hy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Vreemd genoeg, met sy werkers, Sherry, die kinders, die Krugerrande, die gewere en al die seggenskap oor alles, is hy so eensaam hy kan vrek daarvan.