Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In die Bybelboek Sefánja is die volk met net een uitweg gelaat: hulle moes besef dat hul eie heldedade nooit die uitkoms vir hulle sou bied teen hulle vyande nie, dat hulle nie hulle eie krag kon vertrou nie. Ons klein Boerevolkie sal vandag weer daardie enigste uitweg moet volg: ons eie krag sal ons nie red uit ons huidige situasie waar ons stelselmatig uitgemoor word nie; ons sal as volk weer ons hoop en volle geloof in God moet stel om vir ons die oorwinningsmaal te berei.
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (8)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
Die storm is verby. Die kamp is in rep en roer soos tente herstel en weer opgeslaan word. Modder word verwyder. Oral is manne, vroue en kinders besig met besems en moppe. Alles moet weer georden en gerangskik word. Vir dertien dae het hulle gewag vir die wind en toe die reën om te bedaar. Maar dit was ook amper twee weke van rus. Die wagte kon hulle poste verlaat, want niemand sou dit buite waag nie. Slange en ander ongediertes wat voor die reën gevlug het, is deur Koos Slangevanger verwyder en weer in veld losgelaat.
By die kostent is die tannies besig met ontbyt. Dis ‘n uitdaging om met die deurweekte hout die vuur aan die gang te kry, maar mettertyd styg die rook en watertand geure vul die tent en die omgewing. Ben en die ander manne wag vir die swerwerswagte en die voetpatrollies, wat reeds voor ligdag uit is, om te kom rapporteer. Na order-groep is almal besig met hulle onderskeie take.
Iemand het ‘n Voere 180 geweer vir hom gebring en hy is die afgelope tyd met die ding besig. Dis ‘n semi-outomatiese .22LR geweer met ‘n drom-magasyn horisontaal bo-op die romp gemonteer. Die magasyn neem een honderd agt en sewentig rondtes (vandaar die benaming “180”) en kan vinnig en maklik in vier dele uitmekaar gehaal word.
Daar is voorheen bespiegel dat dié gewere ingevoer is om as oorlewingswapens vir die Mirage-vlieëniers gebruik te word. Ander kenners meen daar is nie genoeg plek onder die sitplek van die vliegtuig (waar dit gebêre sou wees) vir die wapen nie, al sou dit uitmekaargehaal wees. Hoe dit ook al sy, Ben het agtergekom daar is ‘n klein onderdeeltjie wat weg is en nadat hy probeer bepaal het hoe die oorspronklike moes lyk, het hy een vervaardig uit ‘n stuk vragmotor bladveer. Dit het hy eers in die vuur gelos om rooiwarm te word, en dit toe gelos in die kole totdat dit uiteindelik afgekoel het. Die staal is daarna sag en bewerkbaar. Die eerste twee het nie gewerk nie, en hy vyl nou die laaste growwe stukkies weg van die nuutste een. Dit pas amper, en met ‘n stukkie fyn skuurpapier en ‘n bolletjie staalwol word dit verder afgerond.
Uiteindelik gly dit presies in plek in en die wapen word verder aanmekaar gesit. Elke onderdeeltjie is skoongemaak en ge-olie. Die hoë voorste visier is weg, maar hy het ‘n kort Aim-Point visier agter-op gemonteer. Die onderdeeltjie word weer uitgehaal, versigtig rooiwarm gemaak en dan vinnig in olie afgekoel. Hy hoop maar die temper is reg. Met die ding weer aanmekaargesit, is hy vir ‘n uur en ‘n half weg, na die skietbaan net onder die kampplek en kom hoogs-tevrede terug.
“Dit outjie skop letterlik niks nie. Jy kan hom op dieselfde plek hou, al skiet jy die hele magasyn leeg. Vreemde ding: miskien is dit oor my nuwe partjie wat ek gemaak het, maar met subsoniese rondtes skiet hy vol-outomaties. Die sluitstuk gaan seker nie ver genoeg terug om die sear te haak nie. Dis naby aan die perfekte wapen vir oorlewing.”
Alhoewel al die nuut-verkrygde wapens in die wapenstoor gebêre word, besluit Ben dat hy hierdie een vir homself hou. Hy brand uiteraard om die ding verder uit te toets – op lewendige teikens - maar ammunisie is beperk.
*
Die grond is baie nat en natuurlik modderig. Hier en daar is van die rooi kleigrond wat in die omgewing plek-plek voorkom, en die Man moet kort-kort gaan sit en die modder van sy stewels se sole afkrap.
Van die oumense het altyd die staaltjie vertel dat donkies wat in die kleigrond geloop het, se hoewe so aangepak het, dat hulle later oor ‘n kapkar kon kyk.
Joe is vies vir die spul. Hy skud so af en toe dan die een voorpoot, dan die ander een. Soms staan hy selfs stil en byt dit van sy pote af. Die uitdrukking op sy bakkies is meer ongeskik as gewoonlik.
Voor hulle is ‘n steil krans en die Man oorweeg om oor dit te probeer klim. Dis egter te steil en aan die bokant hang dit vorentoe. ‘n Ervare bergklimmer, met die regte toerusting, kan dit seker maak, maar nie hy nie, veral met die rugsak, bagasie en die geweer. Hy is ook, soos elke bedrewe skut, versigtig om nie die teleskoop te stamp nie. Selfs die beste teleskope kan van zero versit as dit ‘n stamp kry.
Hy loop ook versigtig, om nie te gly nie, ter wille van verstuitings of kopstamp, maar ook om die geweer en teleskoop te beskerm. Hy loop al langs die krans aan, en besef later dat hy nie aan die noorde daaroor sal kan gaan nie. Uiteindelik draai hy in sy spore om en loop terug na die suide toe. Nog ‘n dag gemors.
Daardie aand maak hy kampplek onder ‘n groot oorhangende rots. Hy pak sy rugsak uit en ontdek tot sy verbasing en genot dat Esther vir hom ‘n seilsak met biltong, beskuit, mieliemeel en koffiemoer ingepak het. Die koffie is binne ‘n ou weermag “fire-bucket” gepak. Daar is ook ‘n stokou koffie-siffie in. Heel bo-op is vier dik snye tuisgebakte brood met koue vleis op. Onwillekeurig kyk hy in die rigting vanwaar hy gekom het. Hy onthou haar vars-gewaste hare en die vorm van haar groot blou oë. En sagte lippe.
Laatnag word hy wakker. Hy lê met die rewolwer in sy hand vir ‘n kwartier. Hy spits sy ore en uiteindelik kom Joe aangeloop. Hy sê natuurlik nie waar hy was nie, al sou hy gevra word. Joe laat hom nie voorskryf nie.
Tevrede dat alles stil is, en dat gevaar nie dreig nie, haal die Man weer sy selfoon uit. Hy hou dit diep onder sy kombers, sodat die liggie nie na buite skyn nie. Die foto van sy twee kleintjies is helder in die donker en hy kan hulle amper hoor lag.
*
Sherry verloor haar humeur nou kort-kort. Sy het haarself ‘n paradys voorgestel, met ‘n man wat haar sal oppas en versorg, troetel en liefhê. Iemand vir wie sy uiteindelik kan bevele gee en wat in haar elke behoefte sal voorsien. Toe kry sy vir George, die Monster. En sy is vir alle praktiese doeleindes sy gevangene - sy en die twee dogtertjies. Sy haal nou ook haar woede op die oudste enetjie uit, want sy glo George is moeilik omdat die kind hom so openlik haat en verafsku. Die bruinkoppie sit nou by die venster en uitkyk. Oor haar linkerwangetjie lê die vier merke van Sherry se vingers en handpalm. Die trane het spore op haar wange gelos en sy snik elke nou en dan.
“Tjank nou verder, dan gee ek jou iets om oor te tjank. Verstaan jy my mooi, juffrou!”
“Ja, Mamma,” sê sy deur geknersde tande.
Die kamer hang dik van die rook. Die jongste enetjie hoes aanmekaar daarvan. Uiteindelik maak Sherry die venster oop en die rook borrel daaruit. Sy steek nog ‘n sigaret aan en sien dis haar laaste pakkie. Daar is nog net drie in. Sy loop die gang af na George se kabinet waar die drank en sigarette is. Dis gesluit. Sy hamer uit frustrasie aan die deur van die kabinet en skreeu vir George:
“Kom sluit dadelik oop!”
“Of wat?” vra hy smalend van die deur af. Hy hou ‘n vol karton uit na haar toe, en as sy nader kom, pluk hy dit weg van haar af.
“Nie so vinnig nie, Sherry-lief. Ek dink jy rook te veel. Nou net een pakkie per week vir jou, en dis as jy jou gedra.”
“Jy kan nie!”
“Ek kan. Kyk mooi.”
Sy gryp na die pak sigarette in George se hand. Sy is fanaties bang om sonder rookgoed te wees. Dis al wat tussen haar en ‘n totale senuwee-ineenstorting staan. Hy ruk sy hand weg en hou haar met sy linkerhand op ‘n afstand. Hulle is amper ewe lank en sy gryp na sy gesig. Haar hande klou na sy gesig en haar naels krap diep vore in sy wange. Hy klap haar oophand, eers met die voorhand en dan met die rughand deur die gesig.
“Jou verbrande teef!”
Steeds probeer sy die sigarette in die hande kry, asof haar lewe daarvan afhang. George slaan haar hierdie keer met die vuis in die maag en sy krul op die grond, snakkend na haar asem. Hy loop by haar verby, met lang treë oor haar, na die kombuis toe. Hy klap die sifdeur oop en stap verwoed buitentoe. Die groepie manne het die woord-geveg gehoor en die meeste vermy sy oë. Hulle het vir ‘n oomblik opgehou praat, maar nou maak hulle asof niks gebeur het nie en gaan aan met dit waarmee hulle besig is; kaartspeel, gesels, rook, een of twee sit en karring met hulle vuurwapens. Net Tros kyk hom aan, met ‘n leë uitdrukking in sy oë.
Mannetjies kyk ook weg, maar hy kyk na die slaapkamervenster, met verlange en empatie in sy dom-dowwe oë.
“Het julle manne niks om te doen nie? Is daar nie werk op hierdie plaas nie? Wanneer laas het julle gekyk of julle iets te vrete kan kry wat nie uit my sak kom nie?” vra George moeilik.
Die manne staan een-een op en loop elkeen ‘n rigting in. Hulle het nie regtig iets om te doen nie, maar van hulle besluit tog om te gaan jag, die ander sal net ver genoeg loop dat hulle buite sy sig is, en daar gaan leeglê. Nie baie ywerig nie, maar darem. En dan kom hulle ook onder George se oë uit.
Al het hulle nie respek vir hom nie, en is hulle geensins vir hom bang nie, hou hy steeds die sleutels van die drank en natuurlik, daardie klomp wapens. Met daardie gewere kan hulle miskien ‘n bietjie uitkring en die hele omgewing onder hulle beheer kry. Hulle hoor in elk geval van ‘n mooi meisie ‘n klompie kilometer hiervandaan. Wat is haar naam nou weer? Rut? Delila? Iets Bybels…o, ja Esther.
Net Mannetjies bly agter. Sodra George die huis ingaan, loop hy versigtig tot by Sherry se slaapkamervenster. Hy tik met sy wysvinger se nael teen die ruit.
“Wat is dit, Mannetjies?” vra sy nie onvriendelik nie, maar met trane in haar stem.
“Is daar iets waarmee ek kan help, Mevrou?” vra hy letterlik met sy hoed in die hand. Hy sien die pyntrek op haar gesig.
“Nie rerig nie… George het gesê ek moet ophou rook. En jy weet hier is niks om te doen nie. Ek moet die dogtertjies oppas en as ek nie sigarette het nie, weet ek nie hoe ek gaan cope nie.”
Sy lyk so hartseer en verdwaal en mooi, dat Mannetjies letterlik enigiets vir haar sal doen.
“Ek sal kyk wat ek vir u kan doen, mevrou?”
“Jy hoef nie vir my ‘mevrou of ‘u’ te sê nie, Mannetjies. Noem my sommer op my naam”.
Die verliefdheid sak oor die man soos ‘n warm, nat kombers, dat hy skoon ’n rilling langs sy rug afkry. Hy wil nie praat nie, want hy is bang hy stotter. Hy bloos net ‘n diep-rooi en dan verdwyn hy. ‘n Paar minute later tik hy weer aan die venster. Hy hou woordeloos ‘n sakkie vir haar uit. Dis in ‘n ou Checkerssak, wat ook al beter dae gesien het. Sodra hy homself weer uit die voete maak, maak sy die sak oop. Binne is vier bladsye uit ‘n ou Geelbladsye telefoongids en twee en ‘n halwe pakkies Boxer pyptabak. Sy sukkel ‘n paar maal, maar dan kry sy ‘n diensbare zol gedraai. Dit stink as sy dit aansteek, maar sy trek die sterk twakrook diep in haar longe in. Binne minute hang die kamer weer swaar van die rook.