Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel." - Pred. 5:17
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (4)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
“Dokter Victor, jy moet kom!”
Victor was besig om ‘n snyplek aan een van die kinders versigtig toe te werk, toe Mossie by die kliniek ingebars kom.
“Wat is dit?”
“Hier, by die hek lê iemand. Ons weet nie of hy dood is nie”.
Die Man het vroegoggend die kookvure van die Kamp gesien, daarheen beweeg met die laaste van sy kragte en uiteindelik veertig meter van die hek af gaan lê. Hy kan nie onthou dat hy gaan sit of lê het nie. Hy het beweeg, die kamphek gesien, en die volgende oomblik lê hy in ‘n bed, tussen lakens, met bekommerde gesigte rondom hom.
“Waar is Joe?”
“Wie is Joe? Was hy saam met jou? Hoe lyk hy?”
“Joe is my kat. ‘n Rooikat”.
Victor kyk vraend na Mossie.
“Ja, dokter. As julle saamkom, sal julle sien daar sit ‘n gedierte onder die eerste bome, naby die berg,” antwoord Mossie.
“Asseblief, moenie hom seermaak of wegjaag nie. Dis my vriend.”
Die Man het goed op die medikasie gereageer. Miskien as gevolg van sy sterk gestel, die fiksheid, die feit dat hy gewoond was om sy liggaam taai te hê, wat ook al; die koorsigheid het vinnig opgeklaar en hy kon binne ‘n paar dae buite rondloop. Die eerste ding wat hy gedoen het, nadat hy op die been was, is om vir Joe te gaan soek. Joe het uiteraard vir hom aangekyk, twee meter van hom af gaan sit en sy pote gelek, asof hy hom glad nie mis nie.
Tien dae nadat hy by die Kamp aangekom het, is hy weer sterk. Dit sal ‘n rukkie neem om weer so fiks as voorheen te wees, maar dit sal kom.
Ben het, terwyl hy in die bed was, sy wapens skoongemaak en hersien, geolie en die skroewe vasgedraai, sy mes skerp geslyp, sy ammunisie aangevul en natuurlik het die vroue gesorg vir beskuit en biltong, soveel as wat hy kon dra. Sy ou klere is weggegooi en verbrand – dit was onwasbaar vuil en vol skeure en snye. ‘n Paar tweedehandse, maar nog in goeie toestand, stewels in sy grootte is gekry en ook ‘n nuwerige paar drafskoene. Daar is ook ‘n sakkie met verbande, pleisters, malariapille en ‘n houer pynpille.
*
“Jou pa gaan hartseer wees as hy hoor jy was hier”.
“Waar is hy?”
“Hulle, jou pa en ‘n klomp ander, is Oos-Vrystaat toe, na ‘n plek met die naam Stuterheim, om daar te gaan help met ‘n stuk moeilikheid. Hulle sal oor so tien dae terug wees as alles goed gaan. Wil jy nie maar vir hom wag nie?”
“Nee, Oom Flip. Ek moet my dogtertjies gaan soek. Ek wou nou juis vir Oom vra: het julle nie ‘n idee waar George Swanepoel of sy pa se plaas kan wees nie? Hulle het vir my gesê dit is iewers hier in die berg.”
“En hy het jou kinders? Hoe dan so?”
“Hulle ma het saam met hom weggeloop en die kinders saamgevat. Ek wil nie eintlik daaroor praat nie.”
“Gee my tyd om te probeer uitvind.”
“Tot wanneer?”
“Tot môre oggend. Ek sal rondvra.”
“Maar nie uitpraat oor hoekom nie, asseblief, Oom.”
“Jy ken my mos al?”
“Ja Oom. Ek doen.”
Voor dagbreek wag Ben en Flip vir hom in by die boonste hek.
“Ons het vir jou goeie en slegte nuus. Dit blyk dat die man wat jy soek net so ‘n klompie kilometer duskant Kranspoort ‘n plasie het in ‘n kom. Dis naby Lesheba Wildernis. Jy weet mos waar dit is.”
Sonder om te wag gaan Ben voort.
“Die plek is van alle kante half beskut deur die berg. Jy kan onmoontlik van die noordekant af daar kom. Die kranse is te steil en jy kan nie daar af nie. Oos en wes is ook moeilik, alhoewel nie onmoontlik nie. Die enigste goeie toegang is vanaf die suide. Maar nou die slegte nuus. Dit lyk asof die ou homself ingegrawe het saam met ‘n dertigtal uitvaagsels. Dis alles witmense. Sommige het ons hier weggejaag, omdat ons nie die goed by ons wou hê nie. Ander het gedros. Maar daar is ook ander, wat hom geken het van die Wes-Transvaal af, voordat hy daar weg is. Die gemeenskaplike deler van hierdie lot is die feit dat hulle almal deur die bank ‘n gewetenlose spul is, wat in die ou bedeling almal dronk of in die tronk of albei sou wees. Maar moenie dink hulle is sag nie. Van hulle is selfs ou soldate en polisiemanne”.
“Hoe weet Oom dit alles?”
Flip en Ben kyk na mekaar.
“Jou pa het een van hulle, ‘n ou met die naam Stef Williston, eendag ‘n drag slae gegee. Hy het in die nag hier weggesluip nadat hy twee van ons wagte doodgewurg het. Nee, moenie hom onderskat nie. Hy is groot en sterk, al is hy al oor die sestig. Hy het groot rugby op sy tyd gespeel. Stef het soms daar gaan kuier, toe George se ou-kêrel nog geleef het. ‘n Inhalige ou blikskottel, skelm en gewetenloos.”
“Okay. Dis goed en sleg om te weet. My kinders is daar.”
“Ons kan jou gaan aflaai daar naby.”
“En hoe vang ons vir Joe? Nee. Ek sal loop. Dit kan nie meer as vyf en veertig kilometer wees soos die kraai vlieg nie. Miskien ‘n week se loop. Maar dankie in elk geval.”
“Jy sal sien dat ek vir jou ‘n ander teleskoop op jou geweer gesit het. Ek dink iewers langs die pad het jy die ou een stukkend geval. Die een wat nou op is, is ‘n Swarovski ses punt vyf tot twintig by vyftig. Ek het hom op drie honderd meter gezero. Ek dink die afstande wat jy gaan skiet gaan daar rondom wees. In daardie seilsakkie is dertig een honderd vyf en vyftig grein Nosler Ballistic Tips. Dis die goed wat jou pa-hulle by onluste gebruik het. Skiet so twee duisend sewe honderd en vyftig voet per sekonde.”
“Dankie Oom Ben.”
Hy draai weg van hulle af en draai dan weer om.
“Ek het nie my pistool nie”.
“Askies jong, ja. Amper vergeet ek.”
Flip het ‘n leer dra-sak in sy hand.
“Jou CZ se uittrekker is stukkend. Toe Ben hom skoonmaak, het die veertjie ook uitgekom en ons het nie onderdele vir hom nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek het vir jou ‘n paar handwapens gebring. Jy kan almal vat, of vir jou kies wat jy wil”.
“Laat ek sien, Oom.”
“Hier is ‘n Walther P38. Hy is al oud, maar het nie eintlik gewerk nie. Dan is daar ‘n Ruger Police Service Six .357 Magnum en ‘n Smith&Wesson Model 29 in .44 Magnum.”
Die Man kyk na die drie handwapens.
“Ek weet die Walther of die Ruger maak meer sin, maar ek dink ek sal die vier en veertig vat.”
“Dis jou keuse. Ons het vyf en sestig rondtes vir hom, en natuurlik die ses in die rol.”
“Sê vir my pa groete.”