Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Man skryf in 'n koerantlesersbrief dat hy vir 30 jaar lank kerktoe gegaan het maar sy tyd gemors het aangesien hy nie eers die preke se inhoud kan onthou nie. 'n Ander leser reageer hierop met die stelling dat hy vir 30 jaar lank sy vrou se kos geëet het, nie die spesifieke spyskaarte kan onthou nie, maar weet dat dit hom al daardie jare aan die lewe gehou het...
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (11)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Wetende dat hulle spore reëndeurdrenk en vaag sou word binne ‘n uur of twee, loop Max en Cornelle grootpad se kant toe. Na drie ure se loop en sloeg deur die dik modder en gietende reën, sien hulle ‘n klompie geboue aan hulle voorkant, nou nog vaag en onduidelik. Na ‘n volle minuut waarin hulle die plekkie dophou, is daar geen beweging nie, wat uiteraard nie vreemd is nie. Hulle sluip versigtig nader en hurk agter een van die geboutjies, ‘n geelgeverfde een, met ‘n “MTN” binne ‘n blou ovaal weerskante en voorop geverf.
Indien Max gewonder het hoe hulle die deur, wat sekerlik met ‘n veiligheidshek versper sou wees, kon oopkry, is dit nie nodig nie. Die hele deur, raam en al is uitgeruk en lê verwronge eenkant. Glasstukke lê voor, op en anderkant die drempel, waaroor hulle versigtig klim.
“Waarna soek ons?”
“’n Tipe USB-kabel. Ek sal weet as ek die regte en sien.”
“Ek dink amper nie ons gaan hier regkom nie.”
“Ek ook nie,” fluister Max. “Maar ons kyk in elk geval.”
Ten spyte van die absolute chaos en verwoesting, die kaste wat omgeruk is, soek hulle tussen die flenters en versplinterings na die betrokke kabel. Cornelle kry twee verskillendes in die hande, maar Max fluister dat nie een van hulle sal werk nie. Teleurgesteld verlaat hulle die geboutjie en loop deur die nou-verlate nedersettinkie.
Op die vérpunt staan ‘n bloedrooigeverfde selfoonhandelaar. Ook hierdie een is oop en die hekke en deur afgebreek. Met sy klein penligflitsie soek hulle weereens en alhoewel daar ‘n paar kabels skuins onder ‘n omgekeerde hout en glaskas is, sien hy nie iets wat kan werk nie. Tog neem hulle alles saam wat hulle kan en maak hulle uit die voete.
*
Elke soldaat, hetsy staandemaglid of dienspligtige van weleer, sal vertel van die tydrowendheid wat hulle tot in die afgrond gefrustreer het.
“Festina et expectare” oftewel in Engels, “Hurry up and wait!”, kon eerder die slagspreuk van veral die infanterie wees, in plaas van “Si vis pacem parabellum – wie vrede wil hê, moet gereedmaak vir oorlog.”
Veral jongmense moet besig gehou word, anders dink hulle iets uit wat net probleme inhou. Nicodemus en die ander leiers hou hulle dus besig genoeg, dat hulle nie juis krag of tyd het vir kattekwaad nie. Tog het Pietman le Roux en Dirkie Verspuy in hulle besige program tyd gekry om met ongereelde tussenposes poetse te bak. Soms is dit half onskuldig en die slagoffer se waardigheid is net ‘n bietjie gekrenk, maar nie vandag nie.
Die twee staan regop en ongemaklik en wag dat Nicodemus klaar skryf. Ben sit eenkant en hou die spulletjie dop, Flip Malan en Len Groenewald kry die twee half jammer, met die gedagte daaran dat hulle elkeen as jong offisiere destyds ook dikwels so moes wag vir hulle lot.
“So, wie se plan was dit?”
“Myne, Oom!” sê Dirkie dadelik.”
“Dis nie waar nie, Oom. Dit was eintlik myne.” sê Pietman.
Sonder om op te kyk, sê Nicodemus: “Besluit nou wie s’n was dit.”
“Oom, ek het nog nooit van die brakkie gehou nie. Dit kef aanmekaar as ek verby die tannie se hut loop en byt soms aan my hakskene.”
“Dis waar Oom, maar die hele plan om die brakkie te verf, was myne.”
“En waarmee het julle hom geverf, en waar het julle dit gekry?”
“Dis nie werklik verf nie, Oom. Dit was haarkleursel wat Mirna gebruik het, maar nie meer nie.”
“Hoekom gebruik sy dit nie meer nie en het sy dit vir julle gegee, of het julle dit gesteel?”
“Nooit, Oom! Ons sal nie iets steel nie. Mirna het dit vir ons gegee.”
“Nou goed. Julle weet dat daardie brakkie tant Georgie se enigste kind is? En hier kom julle twee skarminkels en kleur die arme brakkie pienk en pers?”
“Ja, Oom. Maar ons het hom nie seergemaak nie en Oom sal saamstem hy lyk eintlik mooi?”
“Dit het niks daarmee te doen of hy vir my mooi is of nie. Julle het die tannie se hart seergemaak. ‘n Mens doen dit nie. Tweedens, diere, veral troeteldiere, moet opgepas word en nie beseer word nie.”
“Maar Oom, hy...”
“Dit maak nie saak of hy seergekry het in die proses nie. Julle het hom in ‘n wip gevang, gebad en toe gekleur. Dis verkeerd. ‘n Mens doen dit nie.”
“Ja, Oom.”
“So, julle gaan die tannie se skottelgoed was vir ‘n maand, haar huis se buitekant deurgaan en alles heelmaak. En julle gaan Snippie se poef optel vir die hele maand. Verstaan julle?”
“Ja, Oom.”
Die twee stamp mekaar amper weg om eerste by die deur uit te kom.
“Nicodemus, jy moet erken dis ‘n uiterse lastige brakkie.”
“Hy is en ek wou hom al lankal ook iets aandoen.”
“En ook dat die outjie half oulik lyk so pienk en pers?”
“Nogal. Die ding is, as ons sulke klein dingetjies gaan toelaat, gaan ons later alle dissipline moet prysgee en daarmee ons oorlewing.”
*
Die geveg was half lusteloos en meer van ‘n irritasie as lewensgevaarlik. ‘n Groep bestaande uit oud SAPD-lede en weermagsoldate, wat lankal reeds gedros het met wapens en al, het besluit om die groepie onder aan die voet van die berg ‘n les te gaan leer, en sommer weer te boelie, te buit, martel en dood te maak, as hulle klaar “gespeel” het. Hulle het hulle dienswapens saamgevat toe hulle die magte vaarwel geroep het, pistole natuurlik en ook haelgewere, maar tussen hulle is ook R4-gewere, R5’s en drie R1’e; een toegerus met ‘n teleskopiese visier.
Niemand by die kampplek is oorgerus nie en hulle was paraat genoeg dat, toe die eerste swaarkaliber skoot klap en daarna ‘n sarsie skote knetter, hulle reeds die ligging van die aanvallers kon identifiseer.
Len Groenewald was skuins teen die berg op, toe hy die skote hoor verder ondertoe en na die Weste van die kamp. Die probleem met die ou SAPD is dat hulle gewoond geraak het daaraan om mense te boelie wat nie uniforms gedra het nie. Die blou klere, polisiekenteken, aanstellingskaart en natuurlik die vuurwapen op die sy, het vir baie van hulle roekelose en gewaande mag gegee.
Baie mense sou onthou dat sulke lede hulle maklik afgetrek het en sonder lasbrief die voertuie en insittendes deursoek het. Indien hulle later ‘n klag sou gaan lê by die polisiestasie het hulle nie net die gevaar geloop om geïgnoreer te word nie, maar selfs ook dààr ‘n paar klappe en skoppe te kry. Dikwels is diegene wat hulle op pad getreiter het, ook die lede agter die toonbank.
Dis met hierdie gewaande onaantasbaarheid wat hulle die oënskynlike vredeliewende kamp aangeval het. Hulle het nie ‘n strategie bedink nie, anders as om bloot van die hoogte af op die mense los te trek.
Len het hulle gesien net voordat die kamp behoorlik vir hulle onder skoot kom. Hy het geleidelik herstel na ‘n knie-operasie en het soggens vroeg teen die berg uitgeloop om weer gesond en fiks te word. Hy sou ook nooit sonder sy goedgebruikte en ingeoefende Brno (CZ) en die fris .458 Winchester Magnum iewers beweeg nie, al is dit net long-drop toe.
Hy laat die groep onder hom verbybeweeg en plaas hulle sodoende in ‘n eenman-knyptang tussen hom en die mense by die kamp. Hy kry een van die manne in die middel in sy visiere en trek die skoot – nie net om die vyand te skiet nie, maar ook om die kamp te waarsku. Nie, dat dit juis nodig is nie, want die wagte het hulle ook sien kom en die sarsie outomatiese skote natuurlik gehoor, kort na Len se skoot.
Len is sò ingegrawe agter ‘n paar stewige klippe, dat hulle nie kan wegkom sonder om direk onder sy geweerloop verby te gaan nie. Die .458 is ontwerp om grootwild te skiet, veral die gevaarlikes, wat die Kaapse buffel insluit; ‘n dier wat daarvoor bekend is dat hy nie sommer gaan lê nie, selfs die mense op sy spoor sal voorlê en van kort afstand af sal stormloop – iets wat menige jagter se lewe al gekos het.
Wanneer Len die man vol op sy rug tref, beteken die lyfpantser niks nie, inderwaarheid maak dit dat die swaar 500 grein monolitiese koeël teen 2200 voet per sekonde, effens platslaan en die wondtonnel vergoot. Die man slaan neer asof die genoemde buffel hom gestamp het. Die man is nog nie heeltemal stil nie, of Len het van teiken versit en drie ander loop onder die magtige wapen deur. Dit het ‘n geweldige demoraliserende uitwerking op die manne.
Skielik klap ‘n skoot, gevolg deur nog een agter Len. Een van die bende het agtergeraak en met die aanvang van die geveg hoër teen die berg opgeklim. Hy kan nie ‘n mooi skoot op Len kry nie, staan regop agter ‘n doringboom en trek los. Sy eerste skoot is mis en die tweede een tref Len skrams langs sy regterheup. Hy rol om, kry die man onder skoot en outomaties trek hy die sneller. Die koeël trek reg deur die boom, en die gevolg is min of meer dieselfde: die koeël se voorkant maak oop soos ‘n blom en elkeen van die “blaartjies”, wat nog teen enorme omwentelings draai, sny deur vel, vleis, been en ingewande.
Van die kamp se kant af kom goedgemikte en doelgerigte vuur en die manne in die spervuur is onmiddellik spyt oor hulle besluit. Wat ‘n rustige, vredevolle kamp op ‘n afstand blyk te gewees het, is ‘n goedopgeleide en gedissiplineerde veggroep wanneer die gevaar opdaag.
Voordat Nicodemus of Ben ‘n staakvuur kan roep, is daar niemand in die doodsakker, wat hulleself geskep het, oor nie.